top of page

Totius

Totius (Jacob Daniel du Toit) 1877- 1935: Bybelvertaler, Psalmberymer, Digter, Akademikus. Totius is die seun van die bekende ds S J du Toit wat bekend was as die siel van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging en ook vir die Kerk onder Kruis, kerkgroepering. Totius is gebore op 21 Februarie 1877 en het sy eerste jare deurgebring in die Paarl. Hy begin skoolgaan by ‘n Duitse Sendingskool en daarna by die Gedenkskool der Hugenote in Daljosafat in die Kaap. Daarna is hy ‘n student by die Teologiese Kweekskool in Burgersdorp waar proff. Postma en Lion Cachet sy mentors was. Hier bekwaam hy hom as predikant. Totius sluit aan as militêre kapelaan by die Boeremagte na die utbreek van die Tweede Boere oorlog. Na sewe maande moes hy weens swak gesondheid terugkom. Daarna gaan hy Nederland toe waar hy aan die Vrye Universiteit Amsterdam studeer. Hier promoveer hy in 1903 met sy proefskrif “Het Methodisme”. Hy keer terug na Suid -Afrika en tree in die huwelik met Marie, die jongste dogter van prof Dirk Postma een van die stigters was van die Gereformeerde Kerk. Totius word in 1903 bevestig as predikant van die Gereformeer Kerk Potchefstroom. In 1911 aanvaar hy n professoraat aan die Teologiese Skool. in 1949 ontvang hy sy emeritaat en word hy as ere-professor benoem. Word ook die eerste kanselier van die PU vir CHO Universiteit. Hy ontvang van verskeie universiteite ere-doktorsgrade. Totius was n begaafde digter en het vroeg in sy lewe reeds gedig. Dikwels is die smart (hartseer) van die oorlog van ‘sy’ mense uitgebeeld. So word die smart wat hy beleef het met die dood van twee van sy kinders, een as gevolg van siekte en die ander van n weerligstraal, in die gedig ‘O die pyngedagte’, uitgedruk. Van sy gedigte is oa. Bij die Monument, Verse van Potgieter’s Trek, Rachel en Trekkersweë. Totius is ‘n stemmingsdigter waarin weemoed ‘n groot rol speel. As akademikus is hy gereken en weens sy kennis van die klassieke tale en die Bybel is hy gevra om saam met n span wat insluit ds J D Kestell en prof B Keet, die Bybel in Afrikaans te vertaal. Hulle het die moeilike taak om die Bybel te vertaal in ‘n taal wat nog nie as amptelike taal erken is nie. Op 29 Mei word die eerste besending Afrikaanse Bybels in Suid- Afrika ontvang. Totius bly egter vir jare besig met die hersiening en verbetering van die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Terselfdetyd berym hy tekste uit die Bybel in psalms (?) vir die Psalmboek. Hy sterf op 1 Julie 1953 aan n hartaanval terwyl hy besig was met die finale afronding van die hersiene uitgawe van die Afrikaanse Bybel.

bottom of page